Voor 2016 het ek nie eers bestaan nie

Categories: August 2018,Blog

Ek is in Suid-Afrika gebore, maar my ouers kom van Serwië en Montenegro. Ek is in die Kinderhuis opgeneem in Desember 2010 en het sedertdien probleme met my burgerskap dokumentasie.

Tannie Nicoli, my huisma, is dosyne kere saam met my na die Departement van Binnelandse Sake, maar ongelukkig het dinge net nooit in my guns uitgewerk nie.

My naam is Jane Kovacevic en ek het in die Kempton-Oos satelliethuis gewoon. Die Muller familie, tannie Nicoli en oom Frans, hulle kinders en vriende was meer as net familie vir my. Hulle het my ‘n standvastige tuiste gegee en baie dinge geleer. Ek weet werklik nie waar ek sonder hulle sou wees nie.

In 2015 het ek matriek voltooi, maar ek het nie gedink ek sou dit maak nie. Tannie Patti (tannie Nicoli se dogter) en ‘n vriend wat by Binnelandse Sake werk het gehelp dat ek ‘n volledige geboortesertifikaat kon bekom sodat ek toegelaat is om matriek te skryf. My maatskaplike werker, Tamara, het uit haar pad gegaan om te verseker dat ek ‘n paspoort kon bekom by die Serwiese ambassade. Voor ek dit gekry het, het ek nie amptelik bestaan nie. Ek het my paspoort in Januarie 2016 ontvang. Teen die einde van daardie jaar het ‘n gesinsvriend, wat ook ‘n prokureur is my verwys na regshulp, wat my baie gehelp het. Sedert 25 Julie 2018 het ek dubbele burgerskap en is ek uiteindelik wettig na 22 jaar van my lewe. Selfs beter nuus is dat ek nou uiteindelik kan begin met my diploma in Finansiële Rekeningkunde/Besigheidsbestuur.

Ek is meer as geseën om deel te wees van die Abraham Kriel familie. Ek kan die organisasie en die Mullers, die gemeenskap, donateurs en almal wat betrokke was in my opvoeding nie genoeg bedank nie. Ek is vandag ‘n sterk vrou te danke aan julle!