Piet vorder na knie-operasie

Categories: Blog,May 2018

“Ons het u hulp nodig! Piet (16) het sy knie in ‘n rugbywedstryd beseer en benodig ‘n knie-operasie”.

U mag die hulpkreet ter wille van Piet laat verlede jaar onthou. En u het daarop ge-reageer. U het meer as R20 000 geskenk vir die operasie.

Piet is sedert 2011 al deel van die Abraham Kriel familie en so bang as wat die verandering in sy lewe hom gemaak het, was dit niks in vergelyking met die vooruitsig dat daar aan sy knie gesny sou word nie.

Op 15 Desember 2017, is Piet se knie geopereer by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal. Mnr. Johan Ackerman het sy invloed gebruik en die mediese kundiges van die knie kliniek het ingestem om Piet gratis te behandel. Die operasie, narkose, teater, hospitaalverblyf, die snydokter en alle opvolg behandeling in terme van ‘n biokinetikus en fisio is deur die kliniek gedek.

Dit is nou vyf maande sedert Piet se operasie en hy het al goed herstel. Op Vrydag 4 Mei het hy die laaste behandeling by die biokinetikus ontvang. Volgens Piet se maatskaplike werker, Erika van’t Zand, is die biokenetikus baie tevrede met sy vordering en het ingestem dat Piet weer mag rugby speel. Piet is baie opgewonde oor die vooruitsig, maar het besluit om dit uit te stel tot volgende jaar, wanneer hy weer sterker is.

Met die goedkeuring van die betrokke donateurs is die R20 700 wat vir Piet ingesamel is vir ‘n aantal ander dringende behoeftes gebruik.

Abraham Kriel Bambanani wil graag vir u as donateurs bedank vir u wonderlike respons op ons hulproep. Dit gee ons jongmense baie gemoedsrus en vertroue dat hulle behoeftes en drome belangrik is, self vir mense wat hulle nie ken nie. ‘n Groot dankie aan Johan Ackerman, die knie kliniek en al die spesialiste wat Piet behandel het.