Op die vlerke van ‘n vliegtuig

Categories: April 2019,Blog

Jane Swartz (19) is oppad na hoë plekke met die vlerkies wat sy onlangs verdien het na haar kursus as ‘n lugwaardin. Sy het die vlerkies op 9 April 2019 gekry en sy kan bars van die trots en vreugde. Jane het die afgelope vyf jaar in die Kemptonpark-Oos satelliethuis haar laaste grootword jare geniet. Aanvanklik is sy beskryf as ‘n probleemkind en dit het maar bars gegaan by die skool. Maar intussen het sy ‘n jong dame geword wat gefokus is op haar toekoms en as ‘n positiewe rolmodel dien vir haar jonger sussies in die huis.

In Januarie het Jane se lewe verander toe sy die geleentheid kry om haar lewenslange droom om ‘n lugwaardin te word, na te volg. Sonder Marcus De Klerk, sy kollegas en EPT Aviation Training sou haar droom net ‘n droom gebly het. Hulle het gesorg vir ‘n beurs en al die benodigdhede wat sy vooraf moes kry. Dit het onder andere mediese ondersoeke ingesluit. Daarna moes Jane die ses week lange kajuitpersoneel lisensieringskursus doen, sowel as ‘n persoonlikke loopbaan-ontwikkelingskursus. Sy het loshande deurgekom. Nicoli Muller, haar huismoeder vertel: “Sy was vreeslik opgewonde oor die kursus en het hard studeer om goeie resultate te kry. Sy het ook graag ander studente wat gesukkel het met die kursus gehelp.” Ons is seker die karaktereienskap is ‘n getuienis van dit wat sy geleer het uit die groothartigheid wat U, die donateur, in vennootskap met haar huisouers gedemonstreer het.

“Sjoe! Jane het ons so trots gemaak. Dit is baie bevredigend om te sien dat ‘n kind haar droom bereik en ‘n sukses maak van haar lewe ten spyte van struikelblokke uit die verlede. Ek hoop sy hou aan groei en hou nooit op om te droom nie”, sê Nicoli, “Ek is nou vir 19 jaar ‘n huismoeder en my rol is om te verseker dat kinders bydraende lede van die samelewing word en die beste kan wees waartoe hulle in staat is. Dit is ‘n baie bevredigende werk, wat ek net kan doen met U, die donateur, se steun. U belegging bly dividende oplewer selfs na hulle die nes verlaat. Ek is dankbaar aan al die donateurs wat direk met ons kinders werk, sowel as die wat bydra tot ons kinders se welsyn. Julle verander lewens!” voeg sy by.

Marcus, ons groot weldoener in die geval, is ‘n vliënier by Mango Lugdiens en hy het die bal aan die rol gesit deur vriende te kry om Jane se mediese ondersoeke, paspoort, klere, bybehore en sakgeld te borg tydens haar opleiding en tot en met haat eerste vlug op 23 April 2019. Dankie aan EPT Aviation Training vir die fondse wat Jane se droom waar gemaak het.

Volgende keer wat u op ‘n Mango vlug is moet u nie verbaas wees indien Jane die persoon is wat gaan seker maak dat u gemaklik is nie. Sy het haar internskap by die lugdiens begin en kan nie wag om eendag oor die hele wêreld te kan reis nie.

Jane se prestasie getuig van die groot hoogtes wat ons kinders kan bereik met die nodige steun. Dankie vir u omgee. Dit gaan nie ongemerk verby nie.