Ons blink sterre

Categories: Blog,November 2018

Dit is wonderlik om ‘n doel te bereik, maar om ‘n doel te bereik teen alle verwagtinge is ‘n seën en ‘n ongelooflike  gevoel.  Die kinders dra hul prestasies soos ‘n kleed, en die groot glimlagte en trotse houding oor wat hulle bereik het, is net “price-less”.

Fondswerwing, maandelikse en eenmalige en enige ander donasies, uitstappies en besoeke aan ons blink sterre, ontsluit  ‘n wêreld van potensiaal.  JY, liewe donateur, bied hierdie wêreld.  Hier is ‘n ander voorbeeld van hoe JY die wêreld verbeter:

Maria Kloppers Kampus    Satelliethuise   Langlaagte Kampus

Johanna Malan ECDC

Die jaarlikse konsert van die Vroeë Kinderontwikkelingsentrum het die kollig op Thuto laat skyn.  Thuto het geskitter!  Thuto was een van die vertellers tydends die skoolkonsert:  Die Bybel.  Sy is sedert 2015 by die skool en tydens die eerste 18 maande kon sy beswaarlik praat, sy het gemompel en niemand kon haar verstaan nie.  Op 3-jarige ouderdom kon Thuto nie haar eie taal praat nie.  Spraakterapie en baie harde werk en hope geduld het ‘n wonderwerk tot gevolg gehad.

“Dit is ‘n puik prestasie vir Thuto om op die verhoog te staan, al die woorde te kon leer en memoriseer en al haar woorde met selfvertroue en klokhelder uitspraak te lewer.  Thuto het Graad R geslaag en is een van die top akademiese leerlinge.” Sê Betsie Momsen – Prinsipaal van die Johanna Malan Vroeë Kinderontwikkelingsentrum.

Westbury

‘n Taxi- of busrit stad toe, is so alledaags, maar nie vir die kinders in ons Westbury program nie.  Net so uitsonderlik was die besoek aan die UJ Kunsgalery, Teater en die Dieretuin.  Daar is groot opgewondenheid vir ‘n groepie tieners wat eersdaags ‘n jeugkamp gaan bywoon.  Die Westbury program het ‘n leesklub begin vir al ons kinders, veral vir die wat so sukkel met lees, spel en skryf.

AKB Extended Family Programme in Zola

Mabel en Xena is deel van ons tuissorgprogram in Soweto.  Dié twee dogters werk regtig hard om hul toekoms te verbeter.  Mabel se ouma is diabeties en sy ontvang nie ‘n  pensioen wat die familie kan versorg nie.  Midde van hierdie moeilike omstandighede het Mabel vanjaar ‘n akademiese sertifikaat ontvang as een van die Top 10 Leerlinge in Graad 8.

Xena is die Wyse Wiskundige!  Xena ontvang ‘n sertifikaat vir Wiskunde prestasie vanaf Hard Workers SA en is genooi na SABC 1 se aktualiteitsprogram;  Kids News Room.  Hierdie boekwurmpie en jong skrywer het die keuringstoets van Curtis Nkondo School of Specialization geskryf, met die hoop dat sy ‘n plek in die gesogte skool sal hê in 2020.

*Alle name is verander