‘n Wedloop na ‘n beter toekoms

Categories: Blog,June 2019

“Ons is veronderstel om ons ouers lief te hê.  Só, dit raak baie verwarrend wanneer ouers mens seermaak met wat hulle doen en sê;  en dit laat my wonder hoekom ek ooit gebore is en dit maak die wêreld ‘n baie aaklige plek om in te wees.”– Andy* (14).

Ons het die 12-jarige Andy twee jaar gelede ontmoet.  Hy was baie skaam en het swaar gedra aan opgehoopte woede oor die mishandeling van sy stiefpa teenoor hom en sy boeties en sussie.  Andy was al in pleegsorg geplaas. Daar is hy verkeerdelik beskuldig van wangedrag en hy was diep ongelukkig. In 2017 is hy by Abraham Kriel Bambanani opgeneem en in die twee jaar wat ons hom ken, het hy groot vooruitgang gemaak in gedrag en persoonlikheid.  Sport, het ‘n groot invloed op Andy gehad.  Atletiek het sy lewe verander.

Andy is baie trots daarop dat hy die skool se 400m kampioen is en praat graag daaroor. “Atletiek het my gehelp om my woede en die verwerping wat ek ervaar het  te verwerk.  Ek woon in ‘n huis waar daar altyd liefde is en waar ek elke dag weet wat om te verwag. Ek is gelukkig”, vertel Andy.

“Ek is baie trots op Andy. Die skaam, kwaai seun het ‘n gelukkige kind geword wat altyd in die huis sing en dans”, sê Elize Henn, sy huismoeder.

Die stigma wat mishandelde en misbruikte kinders volg het die potensiaal om ‘n las te word tot in hulle volwasse jare. In ‘n plek soos Abraham Kriel Bambanani, waar donateurs ‘n verskil te maak, kry kinders ‘n tweede kans om die mense te word wat hulle bedoel was om te wees. Hier kry hulle ‘n kans om te verstaan dat hulle werklik saak maak en ook iets het om by te dra tot die gemeenskap. U rol as donateur in die lewe van ‘n kind soos Andy is ontsaglik belangrik. U is die onsigbare goeie ouer wat ‘n nuwe hoofstuk van gelukkige en liefdevolle herinneringe in Andy se lewe skryf.  Dankie vir die omgee!

U kan ook help.  Besoek gerus ons webblad by www.abrahamkriel.org en kliek op die ‘donate’ knoppie. Daar is die paspoort na ‘n nuwe lewe vir ‘n kind. Oorweeg dit asseblief om ‘n paspoort vir ‘n kind aan te skaf!!!

*Nie sy regte naam nie