‘n Gesin se hoop

Categories: Blog,February 2019

Zola is a woonbuurt in Soweto wat berug is vir sy kriminele aktiwiteit. Vir vele gesinne wat hier woon is maatskaplike kwessies soos die MIV/Vigs pandemie, armoede, en werkloosheid ‘n daaglikse werklikheid. Ergste van alles is dat die jeug geensins verwagtings het om iets te bereik nie. Die “Extended Family” program in Soweto werk om die ingesteldheid van die gemeenskap en die jeug in die gebied te verander. Dit gebeur alles met u hulp.

Vir die laaste ongeveer agt jaar het u die volgende verseker:

  • Dat sy ‘n skooluniform het
  • Dat sy kos het om te eet
  • Dat sy skool bywoon
  • En dat sy ‘n ondersteuningstelsel het wat na haar emosionele en verstandelike welsyn omsien.

Amanda Radebe (skuilnaam) is 17 en is op een van ons tuisversorgings-programme. Sy het grootgeword by haar ma se familie en ken nie haar pa nie. Sy woon by haar ma, oupa, tannie en boeties en sussies. Almal is werkloos. Die jong dame is egter vasbeslote om haar gesin se omstandighede te verander en sy is goed oppad om juis dit te bereik.

Amanda slag matriek met drie onderskeidings, in Boekhouding, Besigheidstudies en Lewensorientering by die Kwadedangendlale Hoërskool. Haar skoolmaats beloon haar met ‘n spesiale middagete by ‘n restaurant vir haar harde werk. Maar sy ontvang ook ‘n skootrekenaar met luidsprekers as top student by haar skool. Die jonge dame is gereed vir die volgende hoofstuk in haar lewe. Amanda gaan B.Com Regte studeer by die Universiteit van Johannesburg en sal befonds word deur NSFAS.

Op die vraag wat haar motiveer andwoord Amanda: “Kyk na die omstandighede by my huis. Ek kan nie tyd mors nie. Ek moet fokus sodat ek lig en hoop huistoe kan bring en ons situasie kan verbeter.”

Ons wens Amanda net die beste toe en sien uit na die dag wat sy gradueer. Ons wil voor in die ry sit die dag wat sy haar droom verwesentlik om haar eie regsfirma te open.

Amanda is maar een van vele wat u gehelp het en wat u steeds help om hulle drome te verwesentlik.

Kan u die vermenigvuldigingseffek indink van die verandering wat u moontlik gemaak het in die jong vrou se lewe. Sodra sy haar potensiaal bereik, sal haar hele gesin toegang hê tot ‘n beter lewe. Ander jongmense sal geinspireer word om beter te doen en om werk te vind. Die generasies wat na haar gaan kom gaan almal ‘n beter wegspringplek in die lewe hê.