Herinnering vir altyd

Categories: Blog,November 2017

Maria Kloppers kampus kinders kon die jaar die lekkerte van ‘n seevakansie ervaar. Vir baie van hulle was dit ‘n eerste. Die kosbare herinneringe aan die lekker tyd sal vir altyd met hulle bly. Hopelik kan dit ‘n teëwig wees vir die aaklikge ervarings en trauma wat hulle moes deurmaak voor hulle in die sorg van Abraham Kriel Kindersorg geplaas is.

Themba is sedert sy geboorte by Maria Kloppers en ken geen ander familie nie. Hy is ‘n stillerige seuntjie, wat op sewejarige ouderdom sukkel met interaksie met ander kinders. Hy het nie dieselfde probleem gehad met die golwe nie. Die baldadigheid waarmee hy in en uit die golwe gehardloop het was ‘n vreugde om te sien.

Ongelukkig moes veertien kinders agterbly, ten spyte daarvan dat daar genoeg ruimte was in die geskenkte akkommodasie. Geen vervoer kon vir die laaste klompie kinders gevind word nie. Die tuiste se voertuie het dramaties agteruit gegaan in die laaste klompie maande en was eenvoudig nie betroubaar genoeg vir die reis nie. Die Langlaagte kampus kon ‘n voertuig leen en gawe donateurs het ‘n Volkswagen Kombi en ‘n sedan beskikbaar gemaak, maar dit was steeds te min.

Gelukkig is fondse nou geskenk vir die koop van een nuwe voertuig vir die kampus, wat van die druk op die vervoer kapasiteit sal verlig.