Die lang seun gaan huistoe

Categories: Blog,February 2018

Sou jy die rankerige jong man op die Langlaagte kampus raakloop, met sy groot glimlag en behulpsame houding, sou jy nie die aggressiewe en destruktiewe jong seun herken wat in Maart 2009 hier aangekom het nie.  Met u bydraes en ondersteuning het hy ‘n veilige plek gehad waar hy kon heel word en herstel van baie ongelukkige omstandighede.

Ben* se verlede was baie traumaties. Sy gesin was in finansiële moeilikheid en daar was bewerings van fisiese en seksuele mishandeling. Met die agtergrond het Ben se destruktiewe gedrag na vore gekom. Hy het dikwels dinge in die huis gebreek of gesteel. Op versoek van sy ouers is hy en sy sussie geplaas in die spesialissorg van die Langlaagte kampus. Hierdie heenkome vir ‘n kind soos Ben bestaan omdat daar mense is wat omgee en die organisasie bly ondersteun, omdat hulle glo kinders moet liefgehê, gehoor en gesien word.

Ben was nie dadelik ‘n wonderkind na hy by Langlaagte gearriveer het nie. Hy het geskel, gesteel en goed gebreek. In kort hy was kwaad. Weereens het donateurs tot sy redding gekom en befondsing voorsien vir intensiewe terapie. Hy kon deur sy trauma werk. Hy is verder gediagnoseer met epilepsie en is intellektueel laag funksionerend. Sy emosionele volwassenheid vergelyk met die van ‘n agt- of negejarige. Met sy spesiale behoeftes is hy in Hamletskool geplaas. Ben se ganse persoonlikheid het verander toe hy met terapie begin het. Hy het gegroei tot ‘n saggeaarde reus, wat gehelp het waar hy kon. Hy was die een wat die vrede bewaar onder die seuns in die huis en by die skool was hy net so gewild. “Ben se geloof was opvallend. Hy het in die koor gesing en by die jeuggroep aangesluit,” vertel sy maatskaplike werker, Margot Muller.

Na Ben agtien geword het was die plan om hom te verskuif na ‘n sentrum wat volwassenes met gestremdhede versorg, maar in ‘n gesprek tussen hom en Margot oor sy gesin het sy verlange om huistoe te gaan, uitgekom. Die lid van die gesin wat verantwoordelik was vir die mishandeling is oorlede en dit het die jong man se hereniging met sy familie moontlik gemaak. Ben se ma het in trane uitgebars toe sy hoor dat haar seun huistoe sou kom. “Sy wou altyd haar kinders terug hê. Ben het intussen sy stiefpa ontmoet en ‘n mooi gesonde verhouding met hom gevorm. Toe ons hom vertel hy gaan huistoe, was hy in ekstase. Hy het oor en oor vertel dat dit iets was waarvoor hy gebid het en vir Jesus gevra het”, sê Margot.

Met die voortgaande ondersteuning van ons befondsers is dit moontlik om net daardie een stappie verder te gaan om ‘n gelukkige einde te verseker. Margot het gereelde kontak met Ben en sy ma. “Hy geniet dit om by sy familie te wees en ons hoor ook dat hy betrokke is met vrywillige werk by die kerk. Ben kry ‘n maatskaplike toelaag elke maand, wat hom help om finansieel by te dra tot die gesin,” rapporteer Margot.

*Ben se suster is steeds by ons en sal ook met haar gesin herenig word wanneer sy agtien word.

*Ben is nie die seun se regte naam nie.