Die huis van my hart

Categories: Blog,July 2018,Uncategorized

Marlene se lewe het in 2009 verander, toe sy opgeneem is in ons program in Soweto wat deur ‘n donateur geborg is. Sedertdien ken ons haar as ‘n gelukkige en liefdevolle jong meisie met ‘n glimlag wat vreugde bring aan almal vir wie sy kosbaar is. *Marlene Mashego (skuilnaam) (17) en haar jonger boetie, *Lesego Mashego (skuilnaam) (12) is albei MIV positief, maar die status verhoed haar nie om ‘n ster te wees nie. Sy is ‘n goeie rolmodel en het ‘n positiewe impak op die kinders om haar. In die artikel deel Marlene haar storie en haar ervaring om deel te wees van die  “Extended Family” program in Soweto.

Ek is gebore in Soweto en het grootgeword in ‘n huishouding van tien gesinslede. My gogo (ouma) moes ma en pa wees vir my en my boetie. Sy het gesukkel om reg te kom met net haar pensioen, siende dat niemand anders werk gehad het nie. In 2009 het die Here ‘n engel gestuur om die las van my gogo se skouers te lig. Hy het belowe dat Hy nooit Sy kinders sal verlaat nie en dit is ‘n belofte wat Hy gehou het!

Ek was in Graad 4 toe ek in dié tweede tuiste verwelkom is. ‘n Tuiste is ‘n plek vol van liefde, hoop, vreugde en vrede en dit is al wat ‘n kind nodig het om gelukkig te kan wees. Die “Extended Family Program” is juis dit. Liefdevolle versorgers en donateurs het die rol van ma en pa ingeneem, al het ek van hulle nooit ontmoet nie. Hulle het seker gemaak dat ek nooit honger gaan slaap het nie of honger skooltoe moes gaan nie. Ons het elke dag ‘n maaltyd gehad.

Net soos die ander kinders het ons behoorlike skoolskryfbehoeftes en skooluniforms gehad. Ons versorgers het skoolbyeenkomste bygewoon en ons akademiese vordering dopgehou sodat ons op standaard presteer het. Hulle het seker gemaak ons neem ons medikasie. So ook het donateurs seker gemaak dat ons die nodige toiletware en warm klere en komberse in die winter gehad het.

Die lekkerste tye was tydens skoolvakansies, toe ons regtig kon voel ons behoort aan ‘n groter familie. Ons het bymekaar gekom as broers en susters oor Kersfees en Paasfees. Dit was groot pret. Ons het persente gekry en sommige donateurs ontmoet en partykeer het bekendes vir ons kom motiveringspraatjies gee. Dit het vir my gevoel soos onvoorwaardelike liefde.

Met die oneindelige liefde en ondersteuning wat ek by die gesinsprogram gekry het, kon ek al die negatiewe struikelblokke in my lewensreis sover oorkom. Ek het seker gemaak dat ek goeie resultate kry op skool. Ons het altyd akademiese toekennings gekry as deel van die vakansieprogram, wat my baie gemotiveer het. Vandag is ek ‘n eerstejaar student by die universiteit van my drome (Sefako Makgatho Health Sciences University voorheen bekend as MEDUNSA). Ek studeer vir ‘n BSC graad en mik vir ‘n doktoraal.

Deur die Genade van God sal die “Extended Family Program” sekerlik ‘n beker van seëninge ontvang wat tot barstens toe vol is en oorloop vir die wonderlike werk wat in die gemeenskap gedoen word. Ek bid dat God nog borge sal gee wat ‘n helpende hand kan gee om meer sukses te bring vir meer kinders wat ‘n liefdevolle familie nodig het, net soos ek hulle nodig gehad het. Ek belowe ook dat ek ook in die toekoms ‘n glimlag sal bring vir kinders wat smag na ‘n liefdevolle gesin.