fbq('track', 'ViewContent');

Die mag van ‘n boek

Categories: April 2017,Blog

Belinda Smal is ongetwyfeld besig om die volgende hoofstuk te skryf in die lewens van vele kinders. Wat begin het as ‘n”CSI” projek vyf jaar gelede het ‘n lewenswyse geword en is nou deel van Belinda se lewe.

“In die eerste drie jaar het ek elke week allerlei aktiwiteite saam met die kinders gedoen. Tydens een van ons sessies het ek die kinders geleer om ‘n advertensie en ‘n uitnodiging te maak. Daar het ek agtergekom dat die kinders sukkel om te lees en skryf. Ek het gereken dat boeklees die kinders se lees- en skryfvermoëns moes verbeter” vertel Belinda. En dit was die begin van Belinda se biblioteek op die kampus twee jaar gelede.

Thando (nie sy regte naam nie) van een van die seunshuise, het werklik verbeter en het ontwikkel in een van Belinda se ster lesers. Hy is 15-jaar oud en ‘n graad 10 leerder by Langlaagte Tegniese Hoërskool.  Sy huismoeder, Elize Henn, is trots en baie gelukkig om Thando so opgewonde te sien oor boeke. Elke twee weke besoek Thando en sy maats die biblioteek en ervaar hulle ‘n ander wêreld. “Lees kalmeer my en laat my toe om my verbeelding te gebruik. Ek geniet die atmosfeer van die biblioteek. My gunsteling boekreeks is Goosebumps. Ek geniet bangmaak en romantiese boeke, vertel hy. Sy maatskaplike werker kan die stelling bevestig. “Thando het heelwat gegroei en ek kan bevestig dat lees hom uit die moeilikheid gehou het. Boeke dien vir hom as uitlaatklep vir sy frustrasies”, sê Kuphela.

Linda se leesvermoëns het ontwikkel in pas met Thando s’n, sedert hulle die biblioteek begin besoek het. Ander kinders mag dalk een boek uitneem, maar hulle neem twee of drie uit. Hoe meer hulle lees hoe beter en vinniger lees hulle. Natuurlik help dit wanneer dit kom by leer vir eksamens. “Hulle hou my op my tone, want ek is gedurig aan die soek by tweedehandse boekwinkels vir boeke vir hulle om te lees.” sê Belinda.

Aanvanklik was bibilioteekbesoeke oorweldigend vir Belinda, want kinders sou instorm en almal ter selfder tyd aandring op individuele aandag. Nou stap hulle op ‘n ordelike manier en wag geduldig sodat elkeen ‘n kans kry vir daardie spesiale aandag. “Ek dink ek het hulle geleer om  nie net vir my respek te hê nie, maar vir mekaar ook,” vertel sy. Aanvanklik was dit ook ‘n uitdaging om hulle te kry om regtig die boeke te lees wat hulle uitneem. “Ek het begin om hulle uit te vra oor die boeke en nou is hulle voorberei op ons besprekings.”

“Oor die jare het ek baie lief geraak vir hierdie kinders en ek het vele kere met trane in die oë huistoe gegaan. Die beste deel daarvan om met die kinders te werk is dat hulle omgee. Die kere wat ek vir een of ander rede nie die biblioteek kon oopmaak nie, het hulle altyd gevra waar ek was. Vertel ek hulle dat ek siek was, kry ek ‘n drukkie en word ek vertel dat hulle bly is ek is beter en dat hulle my gemis het” sê Belinda met ‘n glimlag.

Die werk wat Belinda en haar vriende doen vir ons kinders is van onskatbare waarde. Beide kinders en personeel waardeer dit opreg en wens God’s seën op die werk.